Wednesday 23 January 2013

Polisie gee nie om nie


Polisie gee nie om nie
deur Willem Pretorius 2013-01-23 05:55

Maandag omstreeks 22:05 het ek van Vereeniging na die Koppies-Sasolburg-Heilbron-kruising gery en nadat ek links gedraai het in die rigting van Heilbron, deur ’n versperring gery wat nie ligdag daar was nie.

Ek het effens spoed verminder om my voertuig nie te beskadig nie en die volgende oomblik het ongeveer 10 mense opgespring en my voertuig met klippe bestook.

Hierna het ek versnel om net op ’n volgende versperring af te kom: klippe wat oor die hele pad gepak was. Die enigste uitweg was bo-oor die versperring. By die Deneysville-kruising het ek verskeie beskadigde voertuie aangetref. Ongeveer 50 polisielede was daar saamgedrom.

Ek het aan een gevra hoekom hulle nie die mense keer om daar te ry nie, waarop sy arrogante antwoord was dat hulle nou aan die “Heilbron-kant” is en nie soontoe gaan nie of iemand sal kry om die verkeer te waarsku teen die gevaar nie.

Ek het na Heilbron-polisiekantoor gery waar ’n aantal beskadigde voertuie gestaan het met stukkende vensters en ’n beskadigde vragmotor waarvan die dieseltenk stukkend gegooi was. In die polisiekantoor was daar ongeveer 20 klaers wat klagte van klipgooi kom indien het met net twee beamptes aan diens.

Weer het ek my vasgeloop in blatante arrogansie waarop ek verder gery het en dit op Lindley gaan aanmeld het waar ek behoorlik gehelp is.

Dit wil voorkom asof die polisie in die gebied waar die onrus is saam met die klipgooiers werk, of nie ’n duit omgee nie.

No comments: