Tuesday 23 October 2012

Boer, vrou met graaf aangeval


Boer, vrou met graaf aangeval
2012-10-21 21:24






Frans van Dyk (68) praat uit sy hospitaalbed oor die voorval waarin hy en sy vrou, Susan (65), ernstig beseer is. Foto: Verskaf

Frans van Dyk (68) praat uit sy hospitaalbed oor die voorval waarin hy en sy vrou, Susan (65), ernstig beseer is. Foto: Verskaf
Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Volksblad in Foto's
Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's
Maryke Swart
ROSENDAL. – Twee pensioentrekkers is hier op die plaas Dankbaar ernstig beseer toe hulle deur booswigte met ’n graaf aangeval is.

Frans van Dyk (68) en sy vrou, Susan (65), lê in die hospitaal nadat hulle Saterdagaand deur rowers oorval is.

Van Dyk het omstreeks 19:30 hul eenjarige Duitse herdershond, Ditmar, buitentoe gevat.

Drie mans het oor die hek gespring en hom oorval. Hulle het hom herhaaldelik met ’n graaf geslaan, sy hande met elektriese kabels vasgebind en hom geblinddoek. Ditmar het uit skok na die kombuis gevlug na waar hy altyd by Susan lê.

Die booswigte het daarna Van Dyk die huis ingevat en hom gedwing om te sê waar hulle die wapens en geld hou.

Hy het by hulle gepleit om hom nie te skiet nie. Toe skiet hulle ’n skoot langs hom verby.

Hulle het Susan in die eetkamer oorval en haar ook herhaaldelik met die graaf geslaan.

Die egpaar se dogter, Nanda He-fer, sê haar ma het later gemaak of sy dood is.

Susan het haar regterarm gebreek soos wat sy die houe probeer afweer het. Albei het ook veelvuldige kopbeserings opgedoen.

“Hulle het my kop ingeslaan. Hulle wou weet waar is die geld. Ek het vir hulle gesê ek is ’n pen­sioentrekker, hier is nie geld nie. Hulle het my toe geskop,” het Susan gesê.

Hulle het daarna ’n baadjie oor haar kop gegooi. “Ek het net gehoor hoe goed om my breek.”

Van Dyk sê toe dit stiller raak, het hy homself probeer losmaak.

Die volgende oomblik het iemand hom van agter op die blaaie geslaan.

Van Dyk se skoonseun, Hein Hefer, sê nadat die rowers die huis geplunder het, het hulle met twee gewere, kontant en sy skoonma se bankkaart gevlug. “Ek dink nie dit (die motief) was so erg om te moor nie, meer om die wapens en geld te kry.”

Van Dyk kon homself loskry en het sowat 1km na die plaaswerkers se huise ge­stap om hulp te kry. Die polisie en nooddienste is kort daarna ontbied.

“Hulle oefen seker saam met die Cheetahs, want hulle kán hardloop. Die een oomblik sien jy hulle en die volgende oomblik is hulle weg,” het Van Dyk uit sy hospitaalbed geskerts.

“Ons wil baie dankie sê aan Rudi en Jenine Kok van ER24 wat regtig baie moeite gedoen het om my ma-hulle te help,” het Nanda gesê.

Sers. Majang Skalkie, polisiewoordvoerder, sê teen druktyd is niemand nog in hegtenis geneem nie.

- Volksblad

No comments: